Die 25ste Toyota 1000-Woestynren, die derde ronde van die Absa-Veldrenkampioenskap, het ’n opwindende en historiese klimaks Sondagmiddag in Gaborone, Botswana, bereik.

Die veelvuldige veldrenmotorfietskampioene, Alfie Cox en Ralph Pitchford, het die eerste jaer- en navigatorkombinasie geword wat dié byeenkoms met twee en vier wiele kon wen toe hulle met hul Trots Suid-Afrikaanse Nissan Hardbody ná ’n totale tyd van 14 h 34 min 26 sek eerste oor die wenstreep is.

Dié paar het reeds tydens Vrydag se voorren hul bedoelings duidelik gemaak toe hulle 44 sekondes vinniger as hul spanmaats, Hannes Grobler en Francois Jordaan, was. Hulle het hul posisie Saterdag tydelik verloor toe hulle ’n pap band opgedoen het, maar het weer die leiding geneem toe Grobler en Jordaan in ’n sloot vasgeval het. En só het hulle hul eerste algehele oorwinning in die Produksievoertuigkategorie aangeteken.

Henri Zermatten en Bodo Schwegler, die 2004-Mylpaalwenners wat elke ren in die Absa-Veldrenkampioenskap voltooi het, het in ’n uitstekende tweede posisie algeheel en eerste in Klas D in die betroubare Mastercraft Ryobi-Mitusibishi Pajero klaargemaak. Dit was die 17de agtereenvolgende ren wat Zermatten voltooi het en die Pajero se eerste klasoorwinning.

Derde algeheel en net 6,5 sekondes agter Zermatten en Schwegler, was die Castrol-Toyota-span, Gavin Cronje en Robin Houghton in die Hilux 2,7i. Houghton het die Toyota 1000 reeds vier keer as ’n navigator gewen, maar dit was die eerste keer dat Cronje op die podium eindig sedert hy sy veldrendebuut in 2004 gemaak het.

Die voorlopers in die Produksievoertuigkampioenskap, Hannes Grobler en Francois Jordaan, se ren het rampspoedig begin toe hulle die veringstelsel se regopstut linksvoor asook die remskyf en -knyper beskadig het toe die Trots Suid-Afrikaanse Nissan kort na die ren Saterdag ’n aanvang geneem het, in ’n sloot beland het. Dit het hulle meer as 90 minute geneem om die skade te herstel en hulle het tot die 50ste posisie teruggesak, maar ná ’n begeesterde ren, was hulle aan die einde van Renseksie 1 in die 20ste plek algeheel.

Die talentvolle paar het Renseksie 2 met ‘n agterstand van 1 h 23 min agter hul spanmaats aangepak, maar Grobler het weer eens niks ontsien nie en was tweede by die einde, maar vierde volgens korrekte tye. Arnold du Plessis en Johan Knox het ’n probleemvrye ren ondervind en het vyfde algeheel en derde in Klas D in die BB Auto Nissan Hardbody klaargemaak.

Paolo Piazza-Musso en Ockie Fourie het Saterdag in die 58ste plek weggespring nadat hul Castrol-Toyota Hilux 2,7i koppelaarprobleme tydens die voorren opgedoen het. Net soos Grobler en Jordaan moes hulle soveel plekke as moontlik in die digte stof opmaak. Hulle het Saterdag van die 58ste posisie tot die 13de plek opgeskuif en het Sondag goeie vordering gemaak voordat hulle in digte stof met die Sandmaster van die Klas B-voorlopers, Don Thomson en Wally Pooler, gebots het. Hulle het tyd verloor, maar was steeds sesde algeheel en vierde in Klas D.

Die broers, Jurie en André du Plessis, het hul BB Auto Nissan Hardbody in die sewende plek en vyfde in Klas D by die einde aangebring en is deur Zane Pearce en Hennie Vosloo gevolg wat hul eerste Klas E-oorwinning in die Castrol-Toyota Hilux aangeteken het. George Barkhuizen en Rod Hering het negende algeheel en tweede in Klas E in die ex-Marius van Vuuren-Toyota Hilux geëindig.

Mark en Stuart Moffat was in ’n botsing met die Ford Racing-span van Baphumze Rubuluza en Kulile Vakalisa tydens Renseksie 1 en alhoewel die Ford-span nie met die ren kon voortgaan nie, was die Bosal Brospeed-Land Rover so te sê ongeskonde. Die broers was 10de algeheel en sesde in Klas D.

David Marsh en Pieter Barnard was 11de algeheel en sewende in Klas D in die Nissan Hardbody met Kobus van Tonder en Riaan Guezpa in die Mitsubishi Pajero 12de en agtste in Klas D.

André Botha en Richard Carolin het laaste geëindig en het Klas F in die Kopanong Hotel Superteam-Chevrolet gewen.

Die Spesialevoertuigkategorie het strawwe kompetisie tussen die huidige Spesialevoertuigkampioene en die 2004-Toyota 1000-wenners, Atang Makgekgenene en Buks Carolin in die Total-Jimco en die 2005-Nissan Sugarbelt-wenners, Gary Bertholdt en Siegfried Rousseau in die iBurst Advansoft-BAT opgelewer.

Bertholdt en Rousseau was vinniger as Makgekgenene en Carolin tydens die voorren en in Renseksie 1 en het die laaste dag met ’n voorsprong van ses sekondes aangepak wat hulle kort na die aanvang van die ren verloor het. Twee pap bande en ’n beskadigde veringstelselarm linksvoor het die BAT-span verplig om die handdoek in te gooi en al wat Makgekgenene en Carolin moes doen, was om dit tot by die einde te maak om hul tweede agtereenvolgende Toyota 1000-oorwinning in te palm.

Hul Total-spanmaats, Shameer Variawa en VZ van Zyl, was tweede algeheel in die Total-Porter en is huis toe gevolg deur pa en seun, Nick en Ryan Harper, in die Audi-aangedrewe BAT.

Die huidige Klas B-kampioene, Marcus Taylor en Marc de Chalain, het die ren Saterdag in die 57ste posisie aangepak nadat die ratkas van hul JRE tydens die voorren die gees gegee het. Hulle het 40 plekke opgemaak en het 12 min 45 sek agter die Klas B-oornagvoorlopers, Thomson en Pooler, wat in ’n botsing met Piazza-Musso en Fourie asook met Grobler en Jordaan kort na die begin van die ren betrokke was, weggespring. Hierdie insident het Taylor en De Chalain toegelaat om die voortou te neem en hulle het dit tot die einde behou.

Thomson en Pooler het vyfde algeheel en tweede in Klas B geëindig met die veterane, Richard Schilling en Chris Davies, met ’n gekombineerde ouderdom van 109 jaar, sesde algeheel en eerste in Klas S in die Plastotech-Aceco.

Die Swaziland-gebaseerde John Thomson en Clinton McNamara was sewende algeheel en derde in Klas B in die Mormond-Zarco Lite met Giel Nel en Peter Newbery agtste algeheel en vierde in Klas A in die LUK Ate Bosal-Zarco Lite. Kallie Sullwald het die laaste posisie met sy Klas B-Mighty Mag-enkelsitplekker ingeneem.

Net 22 van die 63 spanne wat die ren begin het, kon die 25ste Toyota 1000-Woestynren voltooi.

Die volgende ronde van die Absa-Veldrenkampioenskap, die Sun City 400, vind op 1 en 2 Julie in die Pilanesberg plaas.

Original article from Car