Daar wag ’n heerlike verrassing vir deelnemers en toeskouers wanneer die Sun City 400, die vierde ronde van die Absa-Veldrenkampioenskap, op 1 en 2 Julie in die Pilanesberg-omgewing plaasvind.

Die organiseerders, Off-road SA, het die roete aansienlik verander om aan die deelnemers ’n strawwer toets te bied terwyl dit aan die toeskouers meer kanse sal bied om al die aksie waar te neem.

Die roete vir die hoofren mik nie meer in Tsitsing se rigting nie. In plaas daarvan sal die deelnemers ’n nuwe 50 km-uitdaging tussen Maile en Mogwase aanpak wat vyf rivierkruisings, twee klipperige gedeeltes en ongerepte veld van 20 km insluit.

“Dit was tyd dat die roete oorgedoen word,” het ’n verteenwoordiger van Off-road SA, Adri Roets, gesê. “Die gedeelte wat ons verwyder het, was as gevolg van mynaktiwiteite nie meer geskik nie en ons het besluit om die nuwe, stadiger gedeelte in te sluit. Dit is ’n goeie toets vir die deelnemers en hul toerusting en baie meer toeskouervriendelik.”

Daar is vyf opwindende toeskouerpunte in ’n radius van 20 km tydens Vrydag se 45 km-voorren. Vir Saterdag se hoofren, wat uit ’n 135 km-roete bestaan wat drie keer herhaal word, is daar agt toeskouerpunte in ’n radius van 35 km van die Sun City Sport- en Ontspanningsklub, wat ook as die sentrale dienspunt sal dien.

“Die Sun City 400 beloof ’n taai stryd te wees en dit sal vir toeskouers van dosyne dorpe in die Noordwes-Provinsie, Gauteng en Botswana wat binne ’n radius van 150 km van Sun City is, die moeite werd wees om die aksiebelaaide dag in ’n aangename omgewing te geniet,” het Roets gesê. “Daar sal ook verskeie kitskosverkooppunte by die Sun City Sport- en Ontspanningsklub wees vir diegene met ’n gesonde aptyt.”

Original article from Car