Atang Makgekgenene het 'n lewenlange droom verwesenlik deur die Suid-Afrikaanse Spesiale Voertuig-Jaerskampioenskap te wen met nog een ren in die Absa-Veldrenkampioenskap oor.

Die 41-jarige Motswana is in Francistown gebore en van 'n jong ouderdom was dit jaarliks die hoogtepunt in sy lewe om die Total-Transkalahari-padren, wat later die Toyota 1000-Woestynren geword het, te volg.

Hy het op 12-jarige ouderdom begin bestuur toe hy goedere met sy pa se Chev Custom 30-vragmotor na die plaaslike gemeenskap vervoer het.

"Ek sou dit nooit tóé erken het nie, maar kan nou maar daarmee uitkom en sê dat ek met die leë vragmotor so vinnig as wat ek kon op die grondpaaie gery het," het Makgekgenene gesê. "Ek het myself verbeel dat ek een van die bestuurders in die Toyota 1000-ren was en het daaroor gedroom om dié ren eendag in my eie land te wen."

Makgekgenene was die eerste Motswana om die Toyota 1000 in Junie vanjaar te wen en het glad nie die helde-ontvangs verwag wat hy by die einde in Gaborone gekry het nie.

"Ek het my droom verwesenlik en was oorstelp deur die duisende ondersteuners wat by die einde om my gedrom het," het Makgekgenene gesê. "Na die vonkelwynseremonie moes ek deur die renorganiseerders weggeneem word aangesien hulle oor my veiligheid besorg was."

"Nadat ek twee rondes van die Absa-Veldrenkampioenskap gewen het, het ek besef dat ek om die Spesiale Voertuig-Jaerskampioenskap kan meeding en het ek die veteraan, Buks Carolin, gevra om vir my te navigeer na die ontydige dood van my geliefde vriend en navigator, Mike Stangl, tydens die Nissan-Sugarbelt 400," het Makgekgenene bygevoeg. "Buks het nie daaroor getwyfel om die taak aan te pak nie en het geweet dat ek al die bystand nodig gehad het wat ek kon kry en sy leiding was van onskatbare waarde."

Daar bestaan geen twyfel dat Makgekgenene en Carolin 'n goeie span vorm nie.

Carolin se ondervinding as jaer en navigator het 'n groot rol in hul voortdurende sukses dié seisoen gespeel en die span het die Sun City 400 asook die Toyota-handelaars 400 gewen en tweede tydens die Lesotho Sun 400 klaargemaak met 'n konserwatiewe vyfde posisie tydens die Mafikeng 500.

Met die kampioenskap veilig agter hul name, sal die Total-Jimco-span alles in hul vermoë doen om hul vyfde algehele oorwinning tydens die Carnival City 400 op 19 en 20 November aan te teken.

Original article from Car