Die voormalige Absa-Spesialevoertuig-navigatorkampioen, Brandon Harcus, sal die geleentheid gebied word om te bewys waartoe hy in staat is wanneer hy Amerika se bestes in die SCORE Las Vegas Terrible’s Cup op 29 en 30 Julie op die Las Vegas Motor Speedway aanpak.

Harcus het vir homself ’n uitnodigingsposisie tussen die groot name verseker en sal teen 17 taai deelnemers in Klas 1 vir onbeperkte spesiale renvoertuie (buggies) te staan kom. Onder hulle is Damen Jeffries in ’n Porter-Chevy; Troy Herbst in ’n Smithbuilt Ford wat Klas 1 reeds 16 keer sedert 1997 gewen het; die huidige Klas 1-kampioen, John Marking in die Jimco-Chevy; Harley Letner in die Tatum-Chevy en die eienaar van Jimco, Mike Julson wat met ’n Jimco sal deelneem.

“Ek sal met my enkelsitplek-BAT deelneem en dit behoort sy man teen die Amerikaanse voertuie te staan,” het ’n opgewonde Harcus gesê. “Dit is die eerste keer dat ’n voertuig wat in Suid-Afrika gebou is, in die SCORE-Kampioenskap sal deelneem en ek kan nie wag om die BAT se vermoëns ten toon te stel nie.”

Die SCORE Las Vegas Terrible’s Cup sal onder spreiligte op ’n 2,4 km-kunsmatige Baja-tipe baan op en rondom die Las Vegas Motor Speedway-grondbaan, wat uit springplekke en nagebootste woestyngedeeltes bestaan, plaasvind.

Original article from Car