Die huidige Absa-Spesiale Voertuig-navigatorskampioen, Brandon Harcus, sal sy nuwe enkelsitplek-BAT tydens die Toyota-Handelaars 400 op 22 en 23 Oktober bekend stel.

Harcus sal van die geleentheid gebruik maak om sy nuwe voertuig uit te toets ter voorbereiding vir die 2005-Score Internasionale Veldrenrees in die VSA.

“Ek het al voorheen alleen gery en dit is dus nie ’n nuwe ondervinding vir my om terselfdertyd te bestuur en te navigeer nie,” het Harcus gesê. “Die organiseerders het my verseker dat die roete goed gemerk sal wees en ek verwag nie enige probleme om die regte pad te vind nie.”

“Die BAT is baie anders as die tweesitplekweergawes van die plaaslik-ontwerpte en -vervaardigde voertuie en sal oor groter wielbeweging beskik, ’n agtergemonteerde Chevy LS-1- V8-enjin, ’n vyfgang-sekwensiële ratkas en aanboordnavigasiestelsel en ’n 230 liter-brandstoftenk wat my sal toelaat om ’n hele ren te voltooi sonder om by die dienspunt aan te doen.”

Harcus voorspel dat BAT-voertuie ’n einde aan die Jimco-oorheersing in die Spesiale Voertuigkategorie van die Absa-Veldrenkampioenskap gaan maak. Jimco’s het vier van die ses renne tot dusver dié seisoen gewen met Atang Makgekgenene (Total-Jimco) wat drie oorwinnings behaal het en John Weir-Smith (Kopanong Hotel Superteam-Jimco) een terwyl Mark Corbett (Century Property Developments-BAT) en Gary Berthold (Advansoft-BAT) elk ’n ren gewen het.

“Die Jimco-brigade kan hulself daarvoor voorberei om tydens die Toyota-Handelaars 400 en die Carnival City Casino 400 gelooi te word,” het ’n selfversekerde Harcus gesê.

Original article from Car