Die Nissan Sugarbelt 400, openingsronde van die 2005-Suid-Afrikaanse ABSA-veldrenkampioenskap, word dié naweek (18 en 19 Maart) in KwaZulu-Natal beslis, en Nissan is daarop uit om sy oorheersing van dié gewilde byeenkoms tot vyf agtereenvolgende oorwinnings te verleng.

Nissan Motorsport het sedert dié Midrandse span se toetrede tot die nasionale veldrenkampioenskap in 2001 - nadat hy die nasionale toermotorkampioenskap vir vier jaar geheel en al oorheers het - vier agtereenvolgende Nissan Sugarbelt 400-veldrenne in sy Trots Suid-Afrikaans-Nissan Hardbody-bakkie met ’n V6-enjin van 3,5 liter gewen.

Die viermalige Suid-Afrikaanse toermotorkampioen Giniel de Villiers, wat met die hulp van die veldrennavigator Francois Jordaan in Klas T vir omgeboude produksievoertuie jaag, het hul eerste byeenkoms in 2001 gewen en later die jaar hul eerste nasionale veldrenkampioenskap vir Nissan gewen. Hulle het die KwaZulu-Natalse byeenkoms ook in 2002 gewen en daardeur Nissan se ongehoorde oorwinningstog van uiteindelik 14 renne begin, wat uiteindelik in die laaste ronde van die 2003-seisoen, die Carnival City 400, tot ’n einde gekom het.

Die gewese nasionale veldrenkampioene Hannes Grobler en Richard Leeke het in 2003 eerste die geruite vlag in KZN ontvang in ’n seisoen waarin hulle die kampioenskap oorheers het en ses van die agt renne sowel as die algehele jaers- en navigatorskampioenskappe onderskeidelik gewen het.

Verlede jaar het Grobler en Leeke dit weer in KwaZulu-Natal reggekry en voortgegaan om hul tweede agtereenvolgende kampioenskap te wen.

Nissan Motorsport het vanjaar ’n span wat heelwat anders lyk. Grobler is daarop uit om sy derde agtereenvolgende Sugarbelt-byeenkoms en algehele kampioenskappe te wen en jaag vanjaar saam met Jordaan. Hulle sal vir die eerste twee rondes in ’n Klas T-Trots Suid-Afrikaans-Nissan Hardbody deelneem, waarna ’n nuwe Super-produksiemotorklas die bekende Klas T van die Toyota-Woestynren in Junie af sal vervang.

Na verwagting sal Ford en Toyota hulle by Nissan in hierdie sogenaamde “Super-bakkie”-klas vir omgeboude bakkies, wat tot V6- of V8-enjins van 4,5 liter beperk is, aansluit.

Duncan Vos, wat die 2002-veldrenkampioenskap vir Nissan in ’n Klas D-Hardbody gewen en verlede jaar in die derde Klas T-Nissan Hardbody gejaag het, is die voorjaer in Nissan se tweemotor-aanslag in die Sahara SA Produksiemotorkampioenskap met sy spanmaat die oud-baanren-sterjaer Gary Formato. Hulle jaag in twee Sasol-geborgde Nissan 350Z’s.

Verlede jaar se Klas D-veldrenkampioene Alfie Cox (wat vinnig besig is om ewe bekend te word vir sy vertoning op vier wiele as sy berugte manewales op twee) en Ralph Pitchford jaag weer saam, maar dié keer in die tweede Klas T-Hardbody - ’n gepaste “beloning” vir hul sukses van verlede jaar in hul Arnold Chatz Cars-gesteunde Hardbody waarin hulle vyf klasoorwinnings in die agt rondes van die reeks behaal het.

Nissan sal weer goed gesteun word deur ’n sterk kontingent private jaers, wat die grondslag van nasionale kampioenskapsveldrenne vorm. Die Pietersburgse BB Auto-renspan het twee Hardbody-bakkies ingeskryf vir die Du Plessis-broers André en Jurie en hul ouboet Arnold en sy nuwe navigator, Johan Knox. Hulle sal in Klas D vir bykans standaard sessilinder-produksievoertuie jaag.

Die Gearbox Services-renspan begin die seisoen met net een Klas D-Hardbody wat in die hande van Coetzee Labuschagne en Johan Gerber sal wees. Die top-motorjoernalis Deon Schoeman en sy navigator, Jan Sime, sal ook in Klas D meeding en jaag in hul TopCar-Hardbody.

Thomas Rundle sal in die gewese Klas E-BB Auto-Hardbody, wat nou in die kleure van Barden Tyre Services pronk, meeding nadat hy sy veldrenbuiging in die laaste byeenkoms van 2004, die Carnival City Casino 400, gemaak het.

Original article from Car