Die nuwe Super-Produksieklas wat Klas T in die Produksievoertuigkategorie van die Absa-Veldrenkampioenskap sal vervang, sal tydens die Toyota 1000-Woestynren in Botswana bekend gestel word.

Drie vervaardigers het hulself tot Klas SP, soos dit bekend sal staan, verbind.

Nissan Motorsport sal twee Nissan Hardbody-bakkies vir die huidige Produksievoertuig-jaerskampioen, Hannes Grobler, en sy nuwe navigator, Francois Jordaan, en vir die Klas D-kampioene, Alfie Cox en Ralph Pitchford, hê.

Die Castrol-Toyota-span sal met twee Toyota Hilux-bakkies verteenwoordig word waarvan die jaers nog aangekondig moet word terwyl die Ford Racing-span aanvanklik ’n Ford Ranger vir Neil Woolridge en Kenny Skjöldhammer beskikbaar sal hê terwyl dit só geskeduleer is dat Manfred Schröder en Jack Peckham ná die Botswana-ren van Klas D na Klas SP sal oorskuif.

Nissan en Ford sal voortgaan om met hul Klas T-voertuie in die eerste twee byeenkomste van die seisoen deel te neem terwyl Toyota op sy aanslag in Klas D en Klas E gaan konsentreer.

“Die Super-Produksieklas is ’n opwindende ontwikkeling in Suid-Afrikaanse veldrenne,” het die President van MSA se Veldrenvoertuigkommissie, Piet Swanepoel, gesê. “Die spesifikasies vir Klas SP is só ontwerp dat dit die voertuie meer bekostigbaar vir die vervaardigers gaan maak asook vir privaatspanne wat die oorgang na die top-klas wil maak.”

“Die voertuie sal dieselfde lyk en klink en sal amper so vinnig soos die huidige Klas T-voertuie wees, maar die belangrikste is dat dit meer bekostigbaar sal wees.”

Original article from Car