Die Toyota-handelaars 400 is as die 2004 Absa-veldrenkampioenskap se Byeenkoms van die Jaar verkies.

Die MSA-Veldrenvoertuigkommissie evalueer elke ronde van die kampioenskap volgens ’n streng kriteria wat die houding van die beamptes, die fasiliteite, roete, roetemerkery en algemene organiserende standaarde insluit.

“Byeenkomsorganiseerders, die kampioenskapborg, die Vennote (Ford, Nissan en Toyota) en die deelnemers word ook genooi om te stem,” het die President van MSA se Veldrenvoertuigkommissie, Piet Swanepoel, gesê. “Die SA Motorsportklub (SAM) het die Toyota-handelaars 400 georganiseer en het in alle opsigte die beste gevaar en dié byeenkoms is ’n waardige wenner van dié gesogte toekenning.”

SAM organiseer jaarliks die Sasol-Tydren sowel as ’n aantal tydrenne in die streekskampioenskap en het ’n nuwe vlak van organisering na veldrenne gebring.

“Die reuse-taak om in 2003 ’n veldren op kort kennisgewing in die Lydenburg-omgewing te organiseer, was ’n groot stap vir SAM,” het die hooforganiseerder, Willie du Plessis, gesê. “Gelukkig is dié taak heelwat makliker gemaak deur die ondersteuning wat ons van die lede van die MSA-Veldrenvoertuigkommissie, die grondeienaars, Lydenburg-munisipaliteit se beamptes en die bestuur en personeel van Lydenburg Toyota ontvang het.”

“Om laasjaar se Toyota-handelaars 400 te organiseer, was maklik in vergelyking met die vorige jaar en die nuwe terrein wat tot ons beskikking was, het gesorg dat die roete moeilik was, maar dat daar ’n verskeidenheid in die roete was.”

Original article from Car