Die Carnival City Casino 400 wat op 19 en 20 November plaasvind, beloof ’n naelbyteinde van die Absa-Veldrenkampioenskap te wees met die algehele Produksievoertuig-, Klas B-, Klas D-, Klas S- en Klas T-titels wat nog beslis moet word.

Atang Makgekgenene en Buks Carolin het die algehele en Klas A-Spesiale Voertuigjaers- en navigatorskampioenskappe ingepalm nadat hulle hul Total-Jimco 15 minute voor hul aartsmededingers, Mark Corbett en Juan Möhr (Century Property Developments-BAT) by die einde gebring het terwyl die voormalige Klas E-kampioene, Hugo en Jaap de Bruyn van Vryburg, die Klas E-titel vir die tweede keer in hul Castrol-Toyota Hilux 2,7i tydens die onlangse Toyota-handelaars 400 wat by Lydenburg plaasgevind het, opgeraap het.

Die stryd om die algehele en Klas T-Produksievoertuigkampioenskaptitels sal tussen drie spanne wat aldrie reeds die kampioenskap in die verlede gewen het, beslis word. ’n Oorwinning tydens die Toyota-handelaars 400 het beteken dat Giniel de Villiers en Francois Jordaan (Trots Suid-Afrikaanse Nissan Hardbody) twee punte voor hul spanmaats en die huidige Produksievoertuigkampioene, Hannes Grobler en Richard Leeke, is. Grobler en Leeke moet voor De Villiers en Jordaan klaarmaak indien hulle die kampioenskap vir die tweede agtereenvolgende keer wil wen terwyl die voormalige Produksievoertuigkampioene, Neil Woolridge en Kenny Skjöldhammer, wat derde in die Ford Racing Ranger is, sal hoop dat die Nissans breek en dat hulle hul tweede agtereenvolgende Carnival City Casino 400-oorwinning kan aanteken indien hulle die kampioenskap wil wen.

Die Klas D-geveg is net so straf met net 16 punte wat die die hoofrolspelers, Alfie Cox en Ralph Pitchford asook Mark Cronje en Chris Birkin, van mekaar skei. Cronje en Birkin het vierde algeheel klaargemaak en hul klas in die Castrol-Toyota Hilux 2,7i gewen terwyl Cox en Pitchford gesukkel het om 14de algeheel en sesde in die klas in hul Arnold Chatz Cars-Nissan Hardbody by die Toyota-handelaars 400 te eindig en dit het ’n einde aan Cox se kanse gemaak om die algehele kampioenskap in te palm. Die Castrol-Toyota-span moet ten minste twee plekke voor hul Nissan-teenstanders eindig indien hulle die Klas D-titel by hul Klas E-kampioenskap van laasjaar wil voeg.

Die bestendige Henri Zermatten en Bodo Schwegler in die Mastercraft/Playstation-Pajero, is reeds van die derde plek verseker.

Terwyl Hugo de Bruyn en sy pa, Jaap, reeds die Klas E-titel in hul Castrol-Toyota Hilux 2,7i ingepalm het, is die stryd om die tweede plek tussen die Ford Racing-ontwikkelingspan, Baphumze Rubuluza en Khulile Vakalisa wat ’n enkele punt voor Gavin Cronje en Robin Houghton in die Castrol-Toyota Hilux 2,7i is. Die Ford-span kon nie die Toyota-handelaars 400 voltooi nie terwyl die nuweling, Cronje, sy eerste klasoorwinning behaal het en dit het verseker sy kanse verstewig.

André Botha en Beans Heydenrych (Kopanong Hotel Superteam-Chevy) was die enigste inskrywing in Klas F vir onbeperkte tweewielaangedrewe produksievoertuie en is amper van die titel verseker tensy iemand van die Noordelike Streeksveldrenkampioenskap vir die Carnival City Casino 400 inskryf en die kaarte deurmekaar krap.

Wat die Spesiale Voertuie betref, het Makgekgenene sy vierde oorwinning van die seisoen aangeteken en saam met sy navigator, Carolin, die algehele en Klas A-titels in die Total-Jimco ingepalm. Dit is die eerste kampioenskapsoorwinning vir die Motswana en Carolin se tweede as ’n navigator – hy het in 2001 saam met Variawa gewen.

Die Toyota-handelaars 400 was ’n taai uitdaging en slegs agt Spesiale Voertuigspanne kon die einde haal. Helde wat geval het sluit John Weir-Smith en Geoff Minnitt in die Kopanong Hotel Superteam-Jimco asook Marcus Taylor en Marc de Chalain in die Klas B-JRE in.

Vier spanne – Mark Corbett en Juan Möhr (Century Property Development-BAT), Clint Gibson en Mike Brown (Praesidium Financial Services-BAT), Taylor en De Chalain asook Weir-Smith en Minnitt – sal vir die tweede en derde plekke in die algehele Spesiale Voertuigjaers- en navigatorstitels baklei. Wat hul strategieë ookal mag wees, sal hulle met spanne soos die Mafikeng 500-wenners, Gary Bertholdt en Siegfried Rousseau in die Advansoft-BAT; Brandon Harcus in die enkelsitplek-BAT; Shameer Variawa en Nadeem Dudhia in die Oven Fresh Biscuits-Proter en Bevan Bertholdt en Nick Selamolela in die Itech-BAT, wat nie die kampioenskap kan wen nie, maar sal poog om algeheel te wen, moet meeding en dit kan ’n groot skommeling in die algehele puntestand teweegbring.

Die Klas B-kampioenskapstryd is uiters interessant om die minste daarvan te sê.

Adri Roets en Deon de Kock in die Global DAD-WPP, het die kampioenskap tot die seisoen se halfpadmerk gelei waarvandaan dit deur Taylor en De Chalain oorgeneem is. Die huidige Spesiale Voertuigjaerskampioen, Giel Nel, het stadig begin, maar bestendige vertonings later in die seisoen gelewer en ’n klasoorwinning by die Toyota-handelaars 400 het tot gevolg gehad dat hy nou net vier punte agter Taylor is. Soos sake nou staan, sal die jaerstitel aan Taylor óf Nel gaan met die navigatorstitel aan De Chalain of De Kock.

Klas S is nie goed deur die seisoen ondersteun nie. Desnieteenstaande is die heel moontlike wenners Zane Noble en Richard Hope in die Abe’s Furniture-Raceco met Nardus Alberts en Collin Hunter in die Wrapsa-Raceco en Archie Rutherford en Evan Hutchison in die Ruthcon-Raceco wat vir die orige podiumposisies sal baklei.

Die Carnival City Casino 400 begin op Vrydag, 19 November om 12h00 met ‘n voorren wat uit drie rondtes van die 6 km-baan by die kasinokompleks sal bestaan terwyl die hoofren, wat uit drie rondtes van ’n 135 km-roete sal bestaan, op Saterdag, 20 November om 08h00 sal begin.

Original article from Car