Die huidige Absa-Veldrenkampioenskap se Spesialevoertuig-jaerskampioen, Atang Makgekgenene, en die voormalige SA Veldrenkampioenskap se Spesialevoertuig-jaerskampioen, Shameer Variawa, het onder die Total-vaandel vir die 2005-Absa-Veldrenkampioenskap saamgespan.

Makgekgenene was van voorneme om nie die seisoen deel te neem nie, maar dit blyk asof dit te moeilik is om die aantrekkingskrag wat dié adrenalien-gedrewe, hoëspoedkategorie van motorsport bied, te weerstaan en hy en sy navigator, Buks Carolin, sal aan vier byeenkomste dié seisoen deelneem.

“Ons het die Nissan-handelaars 400, wat ek twee keer saam met wyle Mike Stangl gewen het, gekies asook die Toyota 1000-Woestynren wat ek en Buks in 2004 gewen het; die Sun City 400 en die Toyota-handelaars 400 waar ons ook gewen het,” het Makgekgenene gesê. “Laas jaar het ons vier byeenkomste gewen en die kampioenskap ingepalm en ek is daarvan oortuig dat ons weer om die kampioenskapstitel kan meeding.”

“Total se ononderbroke toewyding word baie waardeer en die toevoeging van Shameer Variawa en VZ van Zyl maak ’n formidabele span.”

Variawa was op 22-jarige ouderdom die Spesialevoertuig-jaerskampioen van die 2000-SA Veldrenkampioenskap en dit is interessant om daarop te let dat Buks Carolin sy én Makgekgenene se mentor was die jare waartydens hulle die kampioenskappe gewen het. Carolin het ook die Spesialevoertuig-jaerskampioenskap in 1989, 1990 en 1991 gewen en was die SA Cross Country-navigatorskampioen in 1994. VZ van Zyl het in 1991 die SA Veldren-Produksievoertuigkampioenskap gewen en vir Greg Daus genavigeer toe hulle in 2002 die Toyota 1000-Woestynren in ’n Raceco gewen het.

“Atang en ek is goeie vriende, maar wanneer dit by renne kom, is ons aartsteenstanders,” het Variawa gesê. “Sy Chevrolet LS-1 V8-aangedrewe Total-Jimco is vinnig en betroubaar, maar ek weet dat my BMW 540 V8-aangedrewe Total-Porter beter is as dit by spoed en hantering kom.”

“Ons is laas jaar deur klein tegniese probleempies geteister, maar met die insette van Porter Cars in die VSA, sal dit hopelik iets van die verlede wees en my en VZ toelaat om ons spanmaats ore aan te sit.”

Buks Carolin het die laaste sê:

“Daar is nie nóg ’n Spesialevoertuigspan in die Absa-Veldrenkampioenskap wat met soveel vorige en huidige kampioenskappe as die Total-span kan spog nie en ek is bevoorreg om die rol van mentor vir beide Atang en Shameer, wat albei ongelooflike talentvolle jaers is, te kon vertolk.”

Original article from Car